Die Volkslied!?
En so vroeg al in die môre?
Ja, dit is die afgesproke teken,
Martjie staan al lang daarop te wag.
Nie nodig ook
die sweep se klap,
sy ’s lank al aangekleed en klaar.
Gelag en sang
kom van die hek se kant,
’n vrolik jongspan wag haar daar
op bok-wa, vol gelaai.
Twee jonkmans spring daar van die relings af
en storrem op die hekkie toe
in wedstryd, uitgelate,
die voetpad op
in ylend-snelle vaart—
wie of die eerste daar sal wees!
Martjie staan al by die voordeur klaar
met kappie helderwit, en toegestrik
[18]
teen môre-kou.
Glimlaggend knik sy met haar hoof
’n groet terug,
op daardie twee se môre-groet
en buiing, speels-oordrewe.
Sy wys hul daar ’n mandjie, by die deur,
wat mee moet gaan.
Gejuig begroet haar by die wa.
Haar twee geleiers maak, aan d’agterkant,
met hande saamgevoeg,
’n trappie waar sy op kan staan,
en die wat op die wa is, neem haar hand;
so word sy opgelig,
en vooroor val sy byna in die wa,
op die wat daar al sit!
’n Juigkreet is die laaste groet
aan Uitkyks woning, half geborge nog
in skaad’wees van die nag,—
en verder gaan die piekniek-wa.
Tweekeer word die volkslied nog gehoor,
voor wonings wat nog slaap,
om die te wek wat mee moet gaan.
Die span is nou voltallig, en die trek
is berge toe.
Hul ’s op die bult, en plots’ling word hul oog
getroffe deur die môre-son,
oor verre vlakte-soom net opgeduik,—
[19]
met drie hoera’s begroet;
en kyk, dis net of hy vir hul
’n ogie knip
en blye dag beloof.
Die bok-wa gooi sy skaad’wee lang-gerek
op harde pad.
En lieflik lag die vlakte na omhoog,
deur môre-dou se dampe
—luierend hier en daar
in leegtes—
as gedra op weerklank van
die verre hane-kraai.
Uitgespan is reeds die wa
as Martjie eers van Roelf ’n môre-groet
en handdruk kry.
Hy was nie een van daardie twee gewees
wat haar kom haal het by die deur:
bésig het sy hom gesien
met diere en tuig,
en toe hy op die wa sy sitplek neem
was sy al daar;
van ver, so tussen al die ander uit,
het hy maar net na haar geknik;
en heel-pad langs het hy
genoeg’lik met die nooi gesels
wat naas hom sit.
In bonte ry sit almal op die gras,
die maaltyd sal begin.
[20]
Naas Roelof is ’n plekkie oop,
maar Martjie loop verby
of sy dit glad nie sien,
en kies ’n plekkie aan die ander kant.
Is ’t wraak, of moedwil, in die snelle blik
wat sy hom werp vandaar?
Hoe ’t ook mag wees, op hom is ’t glad verloor:
hy ’s besig met ’n bottel oop te maak,
die meisie naas hom te bedien;
as Martjie nog bewys moet hê
dat hy haar moedwil glad nie het gemerk,
dan lewer hy dit self,
want, kyk, daar spring hy op
en wip die gras-perk oor
na haar,
en, op haar skouer tikkend,
sê hy: „kom, ou sus,
„laat ek jou glasie vir jou vul.”
Sy blik is openhartig, reguit kyk
sy oog in hare,
en bruisend tintel net alleen
die piekniekdag se vreug daarin
as hy laat volg:
„en netnou kom ek vir jou haal, ou sus,
„ons twee is maters by die meule-spel.”
Na so’n ontwaap’ning
kan sy wel nie anders nie
as met ’n glimlag toegee aan sy wens.
Hy ’s weg alweer van haar,
na oorkant van die kring,
[21]
om nog ’n leë glasie vol te skink.
„Stilte daar! ’n voordrag word gegee.”
Die voordraer het al pos gevat
in middel van die kring;
maar almal lag en praat
en hoor nie hoe hy reeds die naam
van sy gediggie noem.
Maar Martjie het die naam gevang, en weet
dat daardie vers ’n spotgediggie is
op een wat sig belaglik maak.
Is ’t Martjie alleen wat merk hoe Roelof nou
meteens verby die voordraer loop
en snel
’n woordjie fluister in sy oor?
Sarie Drost is iemand
sonderling in alles wat sy doen,
in elke trekkie kom sy haas ooreen
met daardie noointjie in die vers beskrewe,
en Sarie is vandag ook hier.
Roelf, onseker of die voordraer wel
sy wenk sal volg,
die versie sal laat staan,
is snel na Sarie toe gestap
en vraag haar om met hom
’n wandeling te maak,
soos ander reeds al doen—
van ete opgestaan.
[22]
Daar ’s stilte nou, en Roelof hoor van ver
dat hy, wat voor sal dra,
’n ander versie noem as d’eerste keer;
en, Sarie opmerksaam makend,
stel hy voor aan haar
om op die gras te sit
en eers met hom die voordrag aan te hoor.
Onafgebroke is Martjies oog op hom,
in stilte, so van ver;
bewond’ring lê daar in die blik,
so groot
asof sy daad
—beleefdheids-diens aan Sarie Drost betoon,
deur Sarie-self en deur die gaste ook
nie opgemerk—
’n heldedaad van d’ allergrootste is.
Die dag is om
en almal word weer tuis gebring.
Met Martjie saam
stap Roelf by Uitkyk van die wa.
Ná ete sal hy dorp toe stap, alleen,
van-aand die laaste keer,
want môre, eind’lik, is die dag gekom
dat hy op Uitkyk intrek neem,
na sy belofte aan oom Koot gedaan.—
[23]
Sy buitekamer staan al klaar,
met sorg vir hom berei.
Dis stil op stoep,
die nag hang swaar in digte eike-lower,
breë stamme eenkant net verlig
waar lamplig uit die rame stroom;
en uit die ope voordeur gly oor stoep
’n baan van lig,
vèr-strekkend oor die werf se gras, tot waar
die swarte donker dit verswelg.
Oom Kootjie sit voor ope raam te lees,
die bybel-blaaie hel verlig,
en volgend met sy vinger elke reël:
met vrome aandag nog ’n keer die woord,
die skone woord herhalend wat hom flus
getref het toe hy vir almal saam,
die aand-diens het gelei.
En by die tafel ook, met hoof gebuie
in stilte, oor die handwerk wat sy doen,
hoor ou tant’ Mieta aan.
Onvermoeid nog na die dag se tog
in berge en veld,
kuier Martjie en Roelf op stoep,
in awendkoelte.
Vertrouelik, asof
hy nader sig aan haar wil voel
het hy haar arm geneem;
maar ná ’n rukkie, plots’ling,
[24]
net of hy
na iets wou buk,
het hy haar weer gelos.
En al te goed het sy gemerk
dat hy die plan ekspres maar het bedag
om van haar af te raak.
In stilte vra sy aan haarselwe:
wáarom tog?
Elke keer gaan hul
die ope raam verby
en oor die ronding van die boom se stam
gly stil hul skaad’wee.
Fluist’rend praat die twee, om ou oom Koot
sy stotend lese nie te steur.
Dit word vir Roelof tyd,—
verbygaand by die voordeur stap hy in
om aan tant’ Mieta en oom Koot
goeienag te sê.
„Tot môre, Roelfie,” sê oom Koot,
„dan is jy eind’lik onse huisgenoot.”
Martjie stap met hom die treedjies af
om mee te gaan
tot aan die hekkie van die werf.
Sy het van-aand maar min gepraat,
werktuig’lik antwoord géwend as hy so,
by kuier heen en weer op stoep,
haar iets gesê het of gevra;
en droomverlore stap sy nou ook nog
so met hom saam.
[25]
Hul ’s by die hekkie voor sy weet;
en as hy haar ’n hand tot afskeid gee
en sê:
„die laaste keer,”
dan hou sy in haar handjie nog
sy vingers vas ’n oënblik....
Opskrikkend, plots’ling,
los sy gou
die jonkmans hand
en sê gejaag, met laggie baie verleë:
„maar kyk vir my,
„is ek dan mal om so meteens te dink
„dat jy vir altyd gaan,
„en môre kom j’ eers regtig....”
„Martjie, Martjie!” antwoord Roelf
gemaak-bestraffend;—en dan is hy weg,
verdwene in die nag,
op ligte tred en snel,
’n vrolik deuntjie fluitend op sy gang.
Glansend-wit, ’n oënblik,
vertoon sig in die lamplig voor die deur
die slanke beeld van Martjie,
as sy snel
die treedjies opstap en oor stoep
na binne gaan,
die voordeur sluitend vir die nag.
In sware mantel duik die nag
nog dieper weg,
gewieg as op die naklank, sterwend-ver,
[26]
van bybelwoorde flus gehoor,
en op die koorgesang
van kikkers in die slote al-omheen.
En hoor, dis net of uit die sfere bo
’n fluist’ring van die sterre ruis,
sig mengend met die koorgesang beneë,
tot lied van vrede en rus....
Martjie is kwaad
en met haarselwe ontevree;
met hand-ruk driftig-snel
het sy haar tjalie op ’n stoel gegooi
en stap haar kamer op en neer:
Wáarom het sy haar ge-èrg gevoel
van-môre op die wa
toe Roelf so min na haar
het omgekyk;
en watter reg had sy om te verwag
dat hy nou juis naas haar
’n plekkie op die bok-wa in sou neem?
Nee, had hy dit wèl gedaan
dan was sy juis miskien
ge-èrg om so ’n handeling, daar,
voor oë van die hele piekniek-skaar,
want maklik word so iets verkeerd bedui.
En hoe verspot van haar,
toe hy van-aand
soos ander dae haar wou groet,
te dink of droom
dat hy vir altyd afskeid neem,
[27]
en so sy hand in hare vas te hou!
O, foei, en wat gedagte het hy wel
van haar gekry?
Sy, in die huishou so bekend,
en oral, dat sy steeds
in dink en doen
so helder is en klaar!
Vanwaar dan die vergissing so meteens?
Martjie vind op al die vrae
geen antwoord nie;
en opgewonde van verwarring nog
en ergernis
lê sy haar eind’lik op haar bed te rus.
Maar éen ding staan by haar nou vas:
sy sal hom môre daad’lik goed laat merk
dat daardie handdruk van van-aand
maar net vergissing was
en tog volstrek geen plan
van haar kant nie
om hom tot naad’ring te beweeg.